Jagersbosch

Diens, want ons gee om

“As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van ‘n arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.” – Koning Salomo – Spreuke 21:13″

Liefdadigheidswinkel

Die volgehoue bestaan van die Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum is van die uiterste belang. Sy voortbestaan word egter bedreig weens die afname in regeringsubsidies en inflasie. Weens die skaarste aan, en hoë koste van versorgingsfasiliteite, het tuisversorging van bejaardes die voorkeuropsie geword. As ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is die toekoms van Jagersbosch uiters afhanklik van die voortdurende ondersteuning van die gemeenskap, besighede en organisasies.
Ons is betrokke by ‘n aantal aktiwiteite in ‘n poging om ekstra fondse in te samel om ons uiters belangrike dienste vol te hou, waarvan een die Urheim Liefdadigheidswinkel is. Hierdie winkel verkoop tweedehandse klere en huishoudelike items wat aan ons geskenk word vir hierdie doel, en word beman deur vrywilligers wat bereid is om hul tyd en energie vir ons kritieke saak op te offer.

Die Liefdadigheidswinkel word bedryf uit een van die eertydse vakansiehuise wat deur die oorspronklike eienaars Urheim genoem is. Die huis is op die Jagersbosch-perseel in Stilbaai, naby die historiese Opstal en langs die Friedensheim Gesondheidsorgfasiliteit. Hierdie pragtig opgeknapte huis funksioneer nou as ‘n Liefdadigheidswinkel, een van verskeie fondsinsamelingsprojekte van Jagersbosch.

Hierdie winkel is ‘n belangrike bron van inkomste vir ons. Ons doen ‘n beroep op almal om enige items aan ons te skenk wat verkoop kan word om daardie dringend benodigde fondse te help genereer.

Ons verwelkom enige gebruikte items wat in ‘n goeie, skoon en bruikbare toestand is, soos huishoudelike items, kombuistoebehore, meubels, sowel as goeie klere. Enigiets nuttigs en herverkoopbaar. Klere wat nie in ‘n toestand is om verkoop te word nie, skenk ons aan mense wat werklik nie kan betaal nie, maar wel nog nut daaruit kan kry.

Ons verwelkom ook skenkings van duurder items soos antieke meubels of waardevolle kunsstukke. Hierdie items adverteer ons op platforms soos Facebook of verkoop dit deur dit op te veil om sodoende ‘n paslike en realistiese prys te verseker.

diens, want
ons gee om