Jagersbosch
ONS GEE OM VIR DIE OUERES – ASOF ONS AL SELF DAAR IS!
Jagersbosch is ‘n nie-regerings-, geen winsbejag-, gemeenskapsorganisasie wat bekostigbare gemagtigde gemeenskapsorgdienste lewer in die Stilbaai-, Melkhoutfontein- en Jongensfontein-areas.
Ons funksioneer binne die raamwerk van die Wet op Ouer persone en ons diens aan ons lede voldoen aan die norme en standaarde daarin voorgeskryf.
DIE JAGERSBOSCH OPSTAL – ONS TUISTE
Ons Geskiedenis
“Die geskiedenis is net verstaanbaar aan ons in die lig van die hede; en ons kan net die hede verstaan in die lig van die verlede” – E.H. Carr
‘n Groep Stilbaai-inwoners onder leiding van Mnr G van der Kolf, identifiseer reeds in Februarie 1986 dat daar ‘n behoefte bestaan aan basiese dienste, bedsorg, asook etes onder sowat 50 senior burgers in Stilbaai. Die gedagte is om ‘n diens daar te stel wat onafhanklik van enige kerk sal wees.
In Julie 1987 word ‘n nuwe komitee saamgestel en word die ledegeld op R5 per jaar vasgestel. Etes word deur die Hawekafee teen R2.80 per persoon verskaf.
Die soeke na ‘n geskikte gebou duur voort. Die Munisipaliteit bekom ± 7-ha wat ‘n gedeelte van die geskiedkundige plaas, Jagersbosch, asook ‘n 140-jaar oue opstal insluit. Onderhandelinge slaag en die gebou word beskikbaar gestel vir die Dienssentrum.
Na omvattende restourasie, word die Opstal op 15 Augustus 1989 in gebruik geneem. Op 27 Oktober 1990 open Dr J Pieterse van die Departement van Gesondheid en Sosiale Aangeleenthede die Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum amptelik.
Die historiese Jagersbosch-opstal dateer uit die 1860’s.
“Ons moet Ubuntu herontdek, daardie kosbare wysheid van Afrikane vir die wêreld wat sê dat ‘n mens slegs ‘n mens kan wees deur ander mense.”
Biskop Desmond Tutu
TOEPASLIKE WETGEWING
Ons streef daarna om bekostigbare en gemagtigde ondersteunende sorgdienste binne die voorgeskrewe wetgewing te voorsien aan die gemeenskappe van Jongensfontein, Melkhoutfontein, Stilbaai en omgewings te voorsien om sodoende ‘n beter lewenskwaliteit te verseker.
Ons word wetlik verplig om doeltreffend te handel met die gesteldheid van ouer persone deur die daarstelling van ‘n raamwerk wat gerig is op:
- die bemagtiging en beskerming van ouer persone;
- die bevordering en instandhouding van hul status, regte, welsyn, veiligheid en sekuriteit; asook
- om voorsiening te maak vir sake wat daarmee verband hou.
(Wet op Ouer Persone nr. 13, 2006)
Ons ORGANISASIE
Die Jagersbosch Organisasie bestaan uit ‘n nie-uitvoerende Raad wat die Algemene Bestuurder ondersteun in die uitvoering van sy/haar pligte.
Die Organisasie is verder onderverdeel in 5 Departemente, elk met sy eie Departementshoof, naamlik: Voedseldiens, Gesondheidsdiens, Gemeenskapsdiens, CHBC-Staatsprojek en Soetrus/Stillerus fasiliteit.
Al vyf bogenoemde departemente se administratiewe funksies word uit die kantoor in Die Opstal bedryf.
Ons doen hoofsaaklik die volgende:
- Voorsien maaltye op bestelling
- Verhuur ondersteunende mediese toerusting soos rolstoele, krukke, “moon-boots”, en so meer.
- Bied basiese gesondheidsorg aan soos die neem van bloeddruk, toets van bloedsuiker, toedien van voorgeskrewe inspuitings en wondversorging.
- Help met persoonlike gesondheidsorg soos bedsere, bedwasse, voetversorging, asook algemene tuisversorging.
- Voorsien sosiale gemeenskapsorg.
- Voorsien behuising, gesondheid- en sosiale gemeenskapsorg aan lede by die Melkhoutfontein-fasiliteit wat kwalifiseer vir afhanklike- sowel as onafhanklike leeftoelae.
- Lewer ‘n effektiewe diens in samewerking met staatsdepartemente wat verantwoordelik is vir gesondheid, welsyn asook sosiale ontwikkeling.