Diens, want ons gee om
“Sorg vir broers en susters wat swakker is … die bejaardes, die siekes, die wat honger is, die dakloses en vreemdelinge, want ons sal hiervolgens beoordeel word.”
Pous Francis
Urheim Liefdadigheidswinkel
Jagersbosch verwelkom enige Vrywilligers, mans sowel as dames, wat gewillig is om te help om die Urheim Liefdadigheidswinkel te bedryf. Ons steun swaar op mense wat edelmoedig hulle tyd en energie opoffer om ons te help omsien na die kwesbare persone in ons gemeenskap. Al wat u nodig het, is opregte en liefdevolle omgee vir die welsyn van die swakker lede van ons gemeenskap.
Die Urheim Liefdadigheidswinkel is ‘n belangrike bron van inkomste is vir Jagersbosch. Dit opereer vanuit een van die eerste geboutjies in Stilbaai en word uitsluitlik bedryf deur vrywilligers uit die gemeenskap. Die winkel is langs die hoofgebou en vertel ‘n roerende storie van gemeenskapsondersteuning en van hoe een hand die ander was. Urheim Liefdadigheidswinkel verkoop tweedehandse klere sowel as ander klein huishoudelike artikels teen bekostigbare pryse. Baie waardevolle items word dikwels op facebook geadverteer en op daardie manier verkoop.
Produkte word gereeld geskenk deur, asook verkoop aan, persone wat so ver weg woon as Worcester, Bellville, Ashton en Mosselbaai. Inwoners van Albertinia besoek ook dikwels die winkel.
Tot ons groot verrassing vind ons dat jonger mense, veral studente, graag die winkel besoek en klere koop.
Ons dank die inwoners van Stilbaai vir hulle ondersteuning. Ons vra mooi, moet asseblief nie verkoopbare klere en klein huishoudelike items weggooi nie – skenk dit liewer aan die Urheim-winkel.
Verder dank ons ook elke vrywilliger wat sy/haar tyd opoffer om die winkel aan die gang te hou. Sonder u vriendelike hulp, sal ons eenvoudig nie die diens kan lewer nie. Natuurlik sal ons ook nie daardie ekstra geld kan help inbring wat nodig is om ons ander dienste volhoubaar te maak nie.